Oor My

My naam is Marinda Engelbrecht en ek het groot geword op ‘n plaas net buite Durbanville. Ek vertel altyd vir mense dat ek kon botter karring voordat ek kon lees.  My grootwordjare was sorgvry. Dit was jare van buite speel tot jy saans omval van moegheid.

Die koolstoof in ons huis was ‘n sentrale punt.  Voor haar het ons saans in die winter in die sinkbad gebad.  My ma het ons frokkies en nagklere oor haar deurtjies gehang om warm te word.  Ons het voor die koolstoof botter gekarring met die rooikopkarring.  Ons kinderogies het geblink as die geelgoud boontoe kom uit die melk. Dit was beloning genoeg.

Ek kom uit ‘n gesin waar kos meer is as net iets was wat jy geëet het.  Kos was vir troos, vir gesels, vir debateer,vir feesvier en sommer net vir lekker ook.  My ma het gekook met dit wat beskikbaar was.  Konfyt was volgens die seisoen gemaak.  Ek onthou die groot, blink potte met konfyt wat borrel.  Hoe my ma die skuim afskep en dan uiteindelik dit bottel in die kênfruitbottels. Dit was ons rykdom. Blink bottels op die kombuiskas.

My liefde vir kook, wil ek graag deel.  Dit is geen fênsie kookblog nie.  Dis sommer net ‘n eenvoudige kookblog sodat my kinders en hulle vriende en hulle vriende se vriende kan leer kook. Sodat hulle my nie so baie hoef te bel om te hoor : hoe maak mens…

Ek hoop my liefde vir sielskos sal vir jou ook help om sommer net lekker te kook.

Groete,
Marinda

As jy enige versoeke vir resepte of geregte het, laat my weet asseblief.  Ek help graag.

Jy kan dit doen deur een van drie maniere:

  1. In ‘n comment op die webwerf.
  2. Deur ‘n e-pos te stuur na marindakook@gmail.com.
  3. Deur skryf op die Facebook-blad.