Soms lees jy iets op die internet en dan besluit jy dit is wat ek wil maak. Dit was die geval met die appeltertjies. Lochner de Kock het dit vir my op YouTube gewys. Ek het aanvanklik gedink dis moeilik. Glo my dit is so maklik. Dit lyk verruklik en smaak vorentoe.
1 Appel. Stronk verwyder en in dun skyfies gesny.
Sit die skyfies in n bak met water met die sap van een suurlemoen. Mikrogolf op hoog vir 3 minute.
In n ander bakkie smelt 2 teelepels appelkooskonfyt met 1 teelepel water in die mikrogolf vir 1 minuut.
Koop skilferkorsdeeg en sny in stroke van so 10 cm. Smeer met die appelkooskonfyt.
Pak die appelskyfies daarop en laat dit oorvleuel. Dit moet bo by die rand van die deeg uitsteek.
Strooi kaneelpoeier oor die appels.
Vou die deeg van onder af oor die appels. Begin nou aan een kant en rol dit versigtig op.
Plaas dit in n muffinpannetjie wat goed gespuit is met Spray en Cook.
Bak dit vir 35 minute by 180 grade.
Haal dit uit en eet dit koud of warm.