As my ma nie geweet het wat om te maak vir ete nie, het sy vetkoeke gebak. Daar was altyd lekker kerrie mince by of jy kon dit eet met stroop/konfyt en kaas. Ek het dit ook vir my kinders gemaak. Tot vandag toe is dit trooskos in ons huis. Dreineer dit net goed as jy klaar gebak het. Jou deeg moet ook lekker styf wees. So suig die vetkoek nie te veel olie op nie.
Bestanddele
- 500 g koekmeel
- 10 g gis
- 10 ml sout
- 20 ml suiker
- 250 – 300 ml louwater
Metode
- Sit die meel, gis, sout en suiker in ‘n bak en meng dit deur.
- Gooi nou stadig die water by en werk dit met jou hand totdat dit ‘n deeg begin vorm.
- Nou moet jy knie vir 10 minute as jy nie ‘n elektriese menger het nie. Die deeg moet lekker styf en elasties wees. Indien jy ‘n Kenwood het kan jy die stappe in jou masjien doen met die deeghaak. Laat die masjien loop vir 10 minute.
- Smeer ‘n bak en laat die deeg tot dubbel sy grootte rys in jou bak.Maak die bak toe met ‘n lappie.
- Gooi meel op jou oppervlakte en druk die deeg plat met jou hand tot dit so 2 cm dik is. Vat nou ‘n glas, drukkertjie of ‘n lee blikkie en druk jou vetkoeke uit.
- Plaas dit op ‘n gesmeerde bakplaat maak dit toe met ‘n lappie en laat weer rys.
- Gooi olie in ‘n pot en laat dit warm word. Gooi ‘n klein stukkie deeg in en as dit boontoe kom en bruin raak , is jou olie reg. Braai nou so 3 vetkoeke op ‘n slag. Draai om as hulle mooi bruin is.
- Dreineer op kombuispapier. En dan eet jy lekker.