Gebak

Moussaka

Comments are Disabled

Moussaka
Hierdie resep lyk moeilik, maar dit is verspot-maklik. En die beste is: dit behoort eintlik die vorige dag gemaak te word sodat alles lekker bymekaar kan kom Die volgende dag maak jy dit net stadig in die oond warm en bedien. Hierdie is ‘n wenner!

Bestanddele

Groente

  • 4 groot aartappels
  • 3 eiervrugte
  • 3 eiers, geklits met 60 ml melk
  • 500 ml droë broodkrummels
  • olyfolie

Vleis

  • 1,2 kg bees- of lamsmaalvleis
  • 2 uie, fyngekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 150 ml rooiwyn
  • 10 ml fyn pypkaneel
  • 5 ml allspice
  • 100 ml fyngekapte pietersielie
  • 90 ml tamatiepasta
  • 1 blikkie tamatiepuree
  • 5 ml suiker
  • sout en peper na smaak

Bechamelsous

  • 125 ml botter
  • 125 ml meel
  • 1,2 liter louwarm melk
  • 4 eiergele, liggies geklits (maak meringue van die wittes)
  • 2 ml neutmuskaat
  • sout en peper
  • 100 – 150 g gerasperde kaas (hou vir laaste)

Metode

Groente

Skil die aartappels en kook tot net-net sag.

Sny in 1 cm skywe, rangskik in ‘n gesmeerde diep oondpan, maak toe met kleefplastiek en sit opsy.

Sny die eiervrug in 1-cm skywe en sout liggies.

Doop die eiervrug in eiers en dan in broodkrummels.

Plaas op bakplaat wat uitgevoer is met foelie.

Bak vir om en by 30 minute by 180 ºC. Draai gereeld om tot gaar.

Haal uit oond en hou eenkant.

Vleis

Braai die uie en knoffel in olyfolie tot glaserig.

Braai die vleis bruin, maak lekker los met ‘n vurk.

Meng die res van die bestanddele en voeg dit by.

Kook teen lae hitte sonder ‘n deksel vir om en by 1 uur of tot lekker dik.

Bechamelsous

Smelt botter en roer meel by.

Roer die melk stadig by terwyl jy gereeld klits met ‘n ballonklitser.

Laat dit borrel totdat dit dik raak.

Haal van die plaat en roer die eiergele en neutmuskaat by.

Geur na smaak met sout en peper.

Sit terug op die plaat en kook tot lekker dik.

Bou jou Moussaka

Skep die vleismengsel bo-op die aartappellaag.

Rangskik nou al die eiervrug bo-op.

Giet die bechamelsous versigtig oor.

Sprinkel met kaas.

Bak vir 45 minute by 180 ºC.

Laat staan vir ten minste 30 minute voor jy dit sny en bedien.

Maklik!

Comments are closed.