(Dit is een van die Italianers se geliefkoosde nagereg: Affogato. Die woord beteken ‘verdrink’. Die idee is mens ‘verdrink’ baie goeie vanilla roomys met espresso. Vir Anna, het ons besluit sy is so lief vir koffie, dat ons haar ‘n dubble Affogato gaan gee … met koffieroomys!)
Bestanddele
- 175 g kondensmelk (halwe blik)
- 30 ml kitsespresso poeierkoffie
- 30 ml koffie likeur (soos tia maria)
- 300 ml room, styfgeklits
- regte espresso of goeie koffie
Metode
Meng die kondensmelk, koffiepoeier en likeur deeglik saam. Vou die mengsel by die room in.
Skep die mengsel in ‘n lugdigte plastiese bak, maak goed toe en vries oornag of ten minste ses ure.
Om te bedien, maak vir elke gas ‘n klein koppie espresso (of baie sterk swart koffie) sonder enige suiker.
Skep ‘n groot porsie roomys in ‘n bakkie en bedien met die espresso aan die kant.
Elke gas gooi dan die warm espresso oor die roomys en smul!
Lewer 4 – 6 porsies.
Maklik!