Net soms is jy lus om iets te maak wat so dekadent is dat as jy dit eet, kry jy hoendervleis op jou wange van lekkerte. Die tert is so. Dis maklik en gou. Dis altyd daar vir die dag as daar ‘n onverwagste man oor die bult kom met ‘n soettand op sy lyf. Net 4 bestandele ( die 5de is opsioneel)
NODIG
- 1 pakkie tennisbeskuitjies ( jy kan gemmerbeskuitjies of sjokoladebeskuitjies ook vat) Ek het sjokolade tennisbeskuitjies gebruik.
- 125ml botter
- 4 x 180g heelneut-sjokolades ( as ek nie Lindt kan kry nie gebruik ek Cadbury)
- 250 ml room
- 1 x flake vir versiering ( of kersies of net waarvoor jy lus het)
NOU:
- kap die beskuitjies fyn in die voedselverwerker of rol dit fyn in ‘n plastieksak met ‘n koekroller
- smelt die botter en meng dit met die fyn beskuitjies. Druk die mengsel vas in ‘n tertbord
- breek die sjokolade in ‘n bak wat in die mikrogolf kan gaan en smelt dit op volkrag vir 2 minute
- gooi die room by en mikrogolf nog op vol krag vir 1 minuut. Roer die mengsel tot dit goed gemeng is
- gooi dit op jou koekiebasis en strooi die flake oor. Maak dit toe met gladwrap en sit dit in die vrieskas (ja vrieskas en nie yskas)
Jy het altyd iets soets in jou vrieskas vir die onverwagte kuiergas. Haal dit uit en sny met ‘n warm mes. As ek weet ek gaan dit vir nagereg gebruik, haal ek dit so ‘n uur voor die tyd uit om bietjie sag te word. Sny klein skyfies,want dis baie ryk.
Lyk ryk en LEKKER, gaan in die somer probeer. Wat van
Peppermint crisp bo op die tert rasper ipv die Flake, as n
variasie. Ek hou darvan dat dit daar is as jy dit nodig kry,
Dankie n praktiese resep!
Ek het dit ‘n vorige keer met gemmerkoekies gemaak en vesuikerde gemmer bo-op gerasper.
Tannie, ek dink die peppermint crisp kan heerlik smaak. As jy weet mense kom, haal dit net so ‘n uur voor die tyd uit die yskas.
Gaan dit beslis die week maak, my kinders en man kan nie meer wag nie!!!
Laat weet hoe het dit gegaan. Stuur sommer ‘n foto.
Het nou hierdie nommertjie gemaak, kan nie wag om te proe! Het sjokolade koekies gebruik en lemoen skil ingerasper…en het dit net 1/2 te aangemaak, kon nie in winkel onthou hoeveel sjokkies nodig is nie, ai, ai…maar dalk ‘n goeie ding ;)
Natasha, hoe het dit gesmaak? Ek het een keer gemmerkoekies gebruik en versuikerde gemmer bo-op gerasper. Dit was hemels. Laat weet!
Ooh my word! Ek sal mos die hele bak wegsteek en by myself opeet! Oh yum, definitief ‘n wenner! :)))))
Baie dankie vir die deel van die resep!
Natasha, ek weet nie al die antwoorde nie, maar glo ek sal kan help as jy vra.
Marinda, Marinda, daai “sjokolade dekadensie” is verruklik lekker, en kom sit sowaar happie vir happie om die rondings van my se lyfie!!!
dankie vir die flater vrye resep.
Geniet elke happie.