So kan die winter mos nie verbygaan sonder ‘n waterblommetjie op die tafel nie. Ek maak gewoonlik my waterblommetjiebredie met rooivleis. So n bietjie-dag terug eet ek toe die waterblommetjiebredie met hoender by ‘n vriendin. Dit was ‘n groot lekkerte en so het ek dit vandag gemaak.
Laat jou waterblommetjies oornag week in sterk soutwater. Ek het 125 ml sout in my kommetjie gegooi. Dit maak al die goggas dood en laat sandjies en vuiligheid uitkom. Spoel dit ‘n paar maal deeglik onder die kraan af.
BESTANDELE
- 1 kg waterblommetjies
- 1,5kg hoenderstukke
- 2 uie
- 6 aartappels in kwarte gesny
- 4 toontjies knoffel fyn gesny
- 6 kruienaeltjies
- 2 blokkies hoenderekstrak opgelos in 500ml warm water
- 250ml witwyn
- 2 suurlemoene se sap
- 2,5 ml fyn neut
- sout en peper na smaak
NOU:
- sny jou uie in ringe en braai dit in ‘n pot op die stoof in bietjie olie
- braai jou hoenderstukke ook mooi bruin in dieselfde pot en gooi alles by die hoender behalwe die waterblommetjies
- kook alles saam vir om en by 40 minute
- sit jou waterblommetjies in en kook vir nog 15 minute – die waterblommetjies moet nie pap gekook wees nie
Geniet dit op witrys met ‘n glasie koue witwyn…
Baie dankie vir die resep, dit is op my spyskaart more aand!
Elizabeth dis ‘n groot plesier. Bly jy besoek die blog. Vertel jou vriendinne asb van dit, want so kan ek groei danksy julle. Mooi week. Marinda
Kan ek geblikte blomme’kies ook gebruik ek bly in kzn so kry ni vars blomme’kies hier nie
Hi Griet
Jy kan met groot sukses die geblikte blommetjies gebruik. Lekker eet.
Marinda
Die een gaan ek probeer, lyk maklik genoeg vir my.
So maklik
Ook nou lus vir dit. bly die resep dieselfde as ek lamsvleis wil gebruik?
Jy kan enige vleis gebruik. Geniet!
Kan mens vars waterblommerjies vries vur later gebruik?
Dit vries regtig baie goed.
Ek het waterblommetjies gekoop en gaan dit nie dadelik gebruik nie. Hoe vries ek waterblomme en hoe gebruik ek dit dan in ‘n bredie.
Hi Carien. Ek laat le my waterblomme in soutwater en was dit mooi. Jy kan dit dan net so vries. Loer op die blad is daar ‘n waterblommetjieresep. Basies dieselfde as groenboonbredie.