Die gekookte eier is vir baie van ons ‘n redding as ons nie weet wat om gaar te maak nie. Party van ons onthou die reuk van hardgekookte eiers as deel van padkos. Nou kom ons kyk hoe maak jy die perfekte gekookte eier.
Bring water in ‘n pot tot kookpunt. Nou:
* vir sagte geel en wit – kook vir 3-4 minute
* sagte geel en effens stywer wit – kook vir 7-8 minute
*hardgekookte eier – kook vir 11-12 minute
As jou eier klaar gekook is, gooi die warm water af en tap koue water oor. Laat dit bietjie staan anders gaan jou hande brand. Rol nou die eierop die tafel. Die dop sal kraak en jy sal die eier maklik kan afskil.
Die veelsydige gekookte eier kan fyngedruk word en met goeie mayonasnaise, sout en peper gemeng word. Heerlik op ‘n broodjie.
Om die perfekte roereier te maak is nie moeilik nie. Neem 2 eiers per persoon. Klits die eiers in ‘n koppie met ‘n vurk. Gooi 10 ml kraanwater by en klits verder.
Maak jou pan warm op n plaat en sit 15 ml (3 teelepels) olie in jou pan. As dit lekker warm is, gooi jou geklitste eier by. Laat dit bietjie stol. Gooi sout en peper by. Roer nou dat dit in stukkies breek met ‘n vurk. Die eier moet nie droog wees nie.
- Vir ‘n spesiale roereier kan jy uie smoor in ‘n pan en dan die eier bygooi.
- Tamatie en gemengde kruie kan bygevoeg word.
- Kaas van jou keuse kan ingeroer word.
- Braai spek en roer die eier by.
Eet jou roereier op ‘n sny roosterbrood en jy het ‘n ontbyt wat vir jou gaan hou tot middagete.
Partymaal is ons bang om ‘n omelet te maak. ‘n Omelet is eintlik net ‘n verlenging van die roereier.
Gebruik 3 eiers per persoon. Klits die eiers goed. As jy ‘n pofferige omelet wil he, kan jy die wit van die eiers apart klits tot dit punte maak. Vou dit dan by die geklitste geel in. So nie klits net die 3 eiers saam met 15 ml melk.
Sorg dat jou pannetjie 15ml olie en 5 ml botter in het. Laat dit warm word.
Gooi jou eiermengsel in die pannetjie. Moet glad nie aan dit eers raak nie. As dit begin stol , druk die kante weg sodat die loperige eier dit opvul. As die eier byna heeltemal gestol is, sit jou vulsel in. Vou die omelet oor soos’n broodjie. Skuif dit uit op jou bord.
Jou vulsel is jou keuse:
- net kaas
- spek en kaas
- sampioene wat gebraai is
- salm en roomkaas
- kruie van jou keuse
- gebraaide tamatie en uie
- spinasie en feta
- ham wat liggies gebraai is
Om die perfekte gebakte eier te maak is binne elkeen se bereik
Moenie die pan te warm maak nie.
Gebruik 10ml olie en 20 ml botter saam in jou pan.
As jy die eier wil vinniger gaarmaak sonder om dit om te draai, sit ‘n deksel op die pan.
Spoggerige eiers
Smeer ‘n muffinpannetjie se holtes.
Neem ‘n snytjie brood en rol dit plat met ‘n koekroller of wynbottel. Plaas dit in die muffinpan.
Klits ‘n eier in ‘n koppie. Voeg gekapte tamatie, 3 eetlepels kaas, 3 eetlepels gekapte ham en sout en peper by die eier. Gooi dit op die brood in die muffinpannetjie.
Bak by 180°C vir 20 minute. Haal dit uit jou pannetjie en sprinkel nog kaas , gekapte sprietuie oor. Geniet dit.
Ralph, ek is nou aan die gang. Hoop jy geniet die blog.