Bestanddele
- 1 skaap afval, deeglik skoongemaak
- 2 liters ligte asynwater (45 ml asyn op elke liter water)
- 2 uie, grof gekap
- ekstra water, na gelang
- 125 ml wit wyn (opsioneel)
- 2 – 3 lourierblare
- sout en witpeper na smaak
- 45 ml sonneblomolie
- 2 ekstra uie, in medium wiggies gesny
- 30 ml kerriepoeier van jou keuse
- 30 ml borrie
- 10 ml anyssaadjies, grofgekneus
- 65 ml asyn
- 65 ml suiker of appelkooskonfyt (of na smaak)
- 5 – 10 ml gedroogte rooirissievlokkies (of na smaak)
- 4 aartappels in middelmatige blokke gesny
- ekstra asyn en suiker of appelkooskonfyt
- ekstra water en mielieblom indien nodig
- 65 ml fyngekapte koljanderblare of pietersielie
Metode
Sny die pens in ewe groot stukke, so groot soos die palm van jou (vrou se) hand.
Laat die hele afval,kop en al, vir 30 minute of so in die asynwater lê.
Dreineer die water, spoel die afval goed af en plaas dit in ‘n groot kastrol (‘n prutpot is perfek vir die resep; pas net die kooktyd aan) tesame met die gekapte uie.
Bedek met koue water, voeg die wyn (indien jy dit gebruik) en lourierblare by.
Geur na smaak met sout en witpeper en bring tot kookpunt.
Verwyder enige skuim wat bo-op vorm en verlaag dan die hitte.
Kook nou die afval stadig, vir so 2 na 3 ure, totdat dit net-net lekker sag begin word.
Gebruik ‘n gaatjieslepel en verwyder enige los beentjies uit die kastrol, asook die kop- en wangbene.
Sny die vel van die kop en wange in kleiner stukkies en plaas dit terug in die kastrol.
Verhit die olie in ‘n groot pan en voeg die uiewiggies by.
Braai tot glansend en voeg dan die kerriepoeier, borrie en anyssade by.
Braai vir ‘n minuut of wat totdat dit geurig is.
Voeg dan die asyn en suiker of konfyt by asok die rooirissievlokkies, indien jy dit gebruik.
Roer deeglik en skep die kerriemengsel oor die afval, roer deeglik en roer dan die aartappels by.
Bring weer tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met die deksel op totdat die afval en aartappels heerlik sag is.
Indien die sous te veel lyk, kan jy een van twee dinge doen: kook die afval sonder ‘n deksel op hoog totdat die sous genoeg ingedamp en lekker lymerig is.
Andersins die vinnige manier: verdik die sous met ‘n pasta gemaak van mielieblom en bietjie water.
Indien jy dink dis nodig, geur verder na smaak met ekstra asyn, suiker of appelkooskonfyt en sout en peper.
Roer die koljanderblare of pietersielie by en bedien.
Genoeg vir 8
Bedien met bykosse van jou keuse.
Nou nie juis vining nie, maar beslis maklik!