Toe ons klein was het ons nie kos geken soos orange duck nie. Dit was vir ons volksvreemd. Eers toe ek van die plaas af die stad kom ontdek , het ek besef mens kan eend eet ook – dis nie net vir swem in die plaasdam nie. Ek het die eend tydsaam gaargemaak en met jasmynrys bedien.
BENODIG:
- 1 eend
- 4 aartappels
- 1 lemoen
- 250 ml lemoensap
- 100 ml marmalade of appelkooskonfyt (marmalade is lekkerder)
- 5 ml asyn
- 100 ml hoenderekstrak-poeier ( jy gebruik nie alles gelyk nie)
- 100 ml koekmeel
- 100 ml bruinsuiker
- 250 ml warm water
- 10 ml mazina
- sout en peper
- 125 ml Van der Hum likeur (of enige ander lemoenlikeur)
NOU:
- was die eend binne en buite en knip al die los velle af – onthou om die sakkie binnegoedjies uit te haal (maak gaar vir die diere)
- vee die eend droog met n lappie
- halveer die lemoen en druk dit in die eend
- skil jou aartappels en halveer , sit onder in n oondbak waarin jy die eend gaan gaarmaak
- sit n draadrakkie in die bak, want jy gaan die eend op die draadrakkie sit.
- meng die meel, sout en peper en 50 ml van die hoenderekstrakpoeier in n bakkie, smeer nou die hele eend met dit in
- plaas die eend op die rakkie in die bak en prik die eendvel met n mes – die vet moet uitloop ( niks maak beter braai-aartappels as eendvet nie)
- plaas in n oond by 180 grade Celsius vir 2 uur
- moenie die eend bedek nie en na n uur draai jy die eend om – sy moet orals mooi bruin word
- maak intussen die sous: gooi die lemoensap,asyn,water, marmelade, bruinsuiker, hoenderekstrak en water in n pot en kook dit vir 10 minute liggies
- meng die mazina met 80 ml kraanwater tot n paste en roer dit dan by jou lemoenstroop – kook vir 5 minute
Haal jou blinkvet eend uit die oond en geniet dit met jou jasmynrys en aartappels. Dit neem n bietjie tyd en moeite maar is elke happie dit werd.
Hierdie eend sal tuisvoel op die tafel van konings en beroemdes.Lyk fantasties lekker!
Danie, dit is heerlik en glad nie moeilik om te maak nie. Die sitrus gee n lekker smaak.
MORE MARINDA, WIL NET SE JOU EEND RESEP IS GREAT. HET DIT SONDAG GEMAAK. SAL NOOIT WEER N ANDER RESEP MAAK NIE. DANKIE.MARENDA CLAASSENS
My hart sing!!!!! So bly jy het dit geniet.
Groete
M
Eend is vir Kersfees gekoop, toe nie gaargemaak nie, gaan Sat dit doen en rapporteer hoe dit gekom het!
Asseblief. Geniet elke happie.