Smoorsnoek is so Kaaps soos jy kan wens om te kry. Ons het groot geword met die gesegde dat jy nie snoek koop in die maande wat ‘n “r” in het nie. So hier van Mei tot Augustus koop jy snoek. Die rede is dat die snoek pap is in die maande met ‘n “r” in. As jy smoorsnoek maak, kan jy vars of gesoute vis koop. Spoel die gesoute vis net ‘n paar maal goed onder lopende water af. As jy snoek van die skuit af koop, laat hul dit sommer vir jou vlek en kop afsny op die kaai. Die vis het nie baie skubbe nie, dus hoef dit nie gekrap te word nie.
Ek het verlede week die voorreg gehad om in kitchen.net se kombuis saam met die mooie en dierbare sjef William Baldie smoorsnoek te maak.
BENODIG:
- 1 snoek ( medium grootte)
- 2 lourierblare
- 4 wonderpeperkorrels ( as jy het anders los jy dit)
- 500 ml water
- 2 uie
- 1 rooipeper
- 1 groenpeper
- 1 rooi of groen rissie (chillie)
- 4 aartappels
- 1 stukkie vars gemmer ( 2cm x 2 cm)
- 2 toontjies knoffel
- suurlemoensap ( na smaak)
- sout en peper na smaak
- fyn gekapte piertsielie vir garneer
NOU
- sit jou snoek, water, wonderpeperkorrels en lourierblare in ‘n pot en kook totdat die vis gaar is. (om en by 15 minute). Laat die vis afkoel en as dit afgekoel is, vlok dit. Skil jou aartappels en sny in dobbelsteentjie grootte. Kook dit sag in die water waarin jy die vis gekook het.
- sny jou uie, groen en rooipeper in repies (haal die pitte uit) en braai in ‘n bietjie olie in ‘n pan.
- kap jou rissie (haal die pitte uit) en gemmer baie fyn en braai saam met die uie en pepermengsel.
- gooi nou jou vis en aartappels ook in die pan. Geur met sout, peper en suurlemoen sap – na smaak.
En daar is jou smoorsnoek klaar. Ek bedien dit graag op witrys met gekapte pietersielie bo-oor vir kleur.
Patats , tamatie en uieslaai (net met suiker, sout en peper en bruinasyn) en brood met druiwekonfyt sal die feesmaal afsluit.
Patats maak maklik gaar. Stel jou oond op 200 grade Celsius. Was die patats skoon. Vryf hulle lekker in met olyfolie en growwe sout. Sit in oondbak vir so 30 minute (dit hang af hoe groot jou patats is). Voel met ‘n vurk of dit sag is. Die skilletjie raak krakerig. Vir ekstra lekkerte kan jy ‘n klontjie botter op jou patat sit as jy dit oopdruk en bedien.
En so eet ons Kaaps – snoek en patat.
William, laat my weet wanneer ons weer so maak.
Het dit vir V L V gebak en almal was mal daaroor…skou gehalte! Heerlik!
Sjoe, dit laat my nederig en dankbaar voel