Ek weet party mense dink nie hoender is vleis nie. Ons gesin is gelukkig baie lief vir bruin hoender. Die vulsel gee hom net daardie ekstra woema om dit n ikoongereg te maak. Ek het 2 hoenders gaargemaak. More is nog n dag en n stukkie koue hoender of hoender en mayo toebroodjie smaak mos vir nog.
Ek gebruik baksakkies om my hoender in gaar te troetel.
BENODIG:
- 2 hoenders
- 1 ui
- 3 toontjies knoffel
- 125 ml pietersielie
- 60 ml tiemie
- 125 ml broodkrummels
- 4 varkworsies ( pork bangers)
- sout en peper na smaak
- 100 ml meel
- 100 ml botter
NOU:
- was die hoenders onder lopende water en druk dit droog met n vadoek
- in n voedselverwerker kap die ui, knoffel, pietersielie en tiemie net tot fyn – nie pap nie
- druk die worsies uit hulle dermpies by uiemengsel – gee dermpies vir die hond
- meng die broodkrummels by die wors en uie mengsel.
- maak die hoender se vel los en druk die vulsel onder die vel in
- as daar vulsel oorbly druk dit in die holte van die hoender
- skud die meel in die twee baksakkies
- vryf die hoenders met die botter in en sout en peper die hoender
- sit hulle in die baksakkies, maak die sakkies toe en druk so 4 gaatjies in die sakkies
- sit in n oondpan en braai binne die oond by 180 grade Celsius vir 60 minute
- knip die sakkie oop en rooster onder die element vir nog so 10 minute – hier moet jy oppas dat dit nie brand nie.
- sit die hoenders op n mooi opdienbak en maak die sous wat in die sakkies gevorm het dik met bistro as dit nie dik genoeg is nie
Hoender kraai koning in ons huis.