Tamatie-Bloukaastert

Esther Von Waltsleben Tamatie Bloukaastert

Bestandele

Deeg

  • 250 ml meel
  • 80 ml botter
  • 45 ml koue water
  • 2,5 ml sout
  • (Of, jy kan sommer ‘n pakkie gevriesde ‘short crust pastry’ koop.)

Vulsel

  • 2 groot tamaties
  • 185 g bloukaas
  • 90 ml room
  • Peper
  • Tiemie
  • Olyfolie

Metode

Meng al die bestanddele vir die deeg saam en voer ‘n losboompan uit met die deeg. Plaas in die yskas en laat dit rus vir 30 minute. Bak die kors blind teen 180 ºC vir 15 minute of tot die deeg gaar is. Verwyder dan die bakpapier en bone/rys wat jy gebruik het, en bak ‘n verdere 5 minute tot goudbruin en bros. Of berei die gekoopte deeg soos aangedui op die pakkie.

Intussen, plaas die tamaties in ‘n groot bak, bedek met kookwater en laat dit staan vir so ‘n paar minute. Trek dan die skilletjies af en sny die tamaties in skywe.

Plaas die bloukaas in ‘n ander mengbak, maak dit sag met ‘n vurk, en meng die room by.

Wanneer die kors klaar gebak en afgekoel het, smeer die kaasmengsel oor die deegkors. Pak ‘n laag tamatieskywe bo-op die kaas, strooi peper, tiemie en olyfolie oor na smaak.

Bak nou weer teen 160 ºC vir 20 minute of totdat die vulsel gaar is.

Bedien 4 ruim porsies as ligte maaltyd saam met ‘n vars slaai.

Maklik!