Bestanddele
- 30 ml elk botter en olyfolie
- handvol salieblare, nie te fyn gekap nie
- 6 groot knoffelhuisies, fyngekap
- 3 kleinerige rooi uie, in 1 cm wiggies gesny
- 3 kleinerige wit uie, in 1 cm wiggies gesny
- 4 sjalotte, in 1 cm wiggies gesny (dis sulke langwerpige sjalotte. as jy nie kry nie, gebruik dan nog
- twee kleinerige wit uie)
- 300 g preie, die wit gedeeltes, goed gewas en in 1 cm ringe gesny
- 500 ml droë witwyn
- 1,2 liter bees-, hoender- of groente-aftreksel
- sout, peper en Worcestersous na smaak
- 6 dik snye Franse brood (baguette), in growwe stukke gebreek
- 1 groot knoffelhuisie, fyngerasper en gemeng met 60 ml olyfolie
- 150 – 300 g lekker ryp brie-kaas
- 65 ml fyngekapte platblaar pietersielie
- 65 ml ekstra salie, in fyn repies gesny
- 30 ml fyngesnyde (zest) suurlemoenskil
Metode
Verhit die botter en olie in ‘n groot kastrol en roerbraai die handvol salie en knoffel tot geurig en voeg dan die al die uie, sjalotte en preie by. Roerbraai op hoog totdat dit begin verkleur en diep-geurig word.
Gooi die wyn by en kook vinnig sonder ‘n deksel totdat die wyn aansienlik verdamp het. Gooi nou die aftreksel by en kook die sop vir nog 20 – 30 minute totdat die uie sag genoeg na jou smaak is.
Rooster intussen die brood in die oond tot goudbruin, haal uit, bedruip met die knoffelolie en hou eenkant.
As die sop genoeg gekook het, proe dit. Nog sout? Peper? Worcestersous? Skeutjie wyn? As dit reg smaak, skep die sop in oond-bestande sopbakkies wat op ‘n bakplaat staan.
Verhit die oondrooster tot hoog en posisioneer die oondrak in die middel van die oond.
Rangskik stukke brood op die sop. Skeur die kaas in stukke so groot soos die brood en druk tussen die brood in. Sprinkel die pietersielie, suurlemoen- en salierepies bo-op.
Sit nou die bakplaat met die sop in die oond en rooster totdat die kaas gesmelt en die brood hier en daar bruin is. Verwyder van oond en bedien dadelik.
Lewer 6 – 8 porsies.
Bietjie werk, maar maklik!