Voorgereg

Aspersie, Eiers en Mayonnaise

Comments are Disabled

Hierdie gereg is die kombinasie van drie geregte – jy kan enige van die resepte gebruik op hulle eie, of saam met ander geregte. Die eiers is spesiaal: dit is gegeurde geposjeerde eiers wat onfeilbaar is. Die mayonnaise is die maklikste ding op aarde as jy ‘n staafmenger het, en boonop veelsydig, want jy kan allerhande geure bysit.

Bestanddele

Mayonnaise

  • 1 Jumbo eier
  • 15 ml Gewone witasyn
  • 250 ml Sonneblomolie
  • 2.5 ml Sout
  • 30 ml Gedroogde “tarragon”

Wenk: Jy kan enige olie of kombinasie olies gebruik. Ek verkies gewone sonneblomolie. En jy kan enige geurmiddels gebruik: knoffel, suurlemoenskil, basielkruid, kerriepoeier en koljanderblare … die opsies is eindeloos.

Aspersies

  • 12 – 16 jong, groen aspersies
  • kookwatersout na smaak
  • yswater

Eiers

  • 4 klein bakkies of koppies
  • kleefplastiek
  • 4 jumbo eiers
  • masala poeier van jou keuse
  • gedroogte rooi brandrissievlokkies
  • fyngekapte groen sprietuie
  • grofgemaalde sout en peper

Wenk: Jy kan enige geurkombinasie gebruik: gerookte paprika en gekapte koljanderblare is baie lekker – of selfs knoffel, gekapte pietersielie en gerasperde Parmesaankaas.

Metode

Mayonnaise

Breek die eier oop in die diep, regop beker van jou staafmenger.

Plaas dan die res van die bestanddele (behalwe die tarragon) in die volgorde daarin: asyn, dan olie, dan sout.

Druk jou staafmenger versigtig in totdat hy aan die bodem van jou beker raak. Druk die knoppie dat hy begin meng en hou hom daar totdat die mengsel onder begin emulsifiseer.

Terwyl die menger nog aangeskakel is, trek hom stadig maar met mening boontoe – en soos hy opwaarts beweeg, sal jy sien die hele gedoente word ‘n wonderlike, heerlike mayonnaise.

Hou dadelik op as die menger die tip van die bestanddele bereik het.

Roer die tarragon by, maak die beker toe en hou eenkant tot benodig.

Aspersies

Vul ‘n pan 2/3 vol met kookwater en sout die water na smaak.

Kook die aspersies vinnig (omtrent 90 sekondes) in die pot met ‘n deksel op tot net gaar. Hulle moet nog kraakvars wees.

Lig die aspersies met ‘n gaatjielepel uit die kookwater en dompel dadelik in die yswater. Hou die kookwater om die eiers in te posjeer.

Masala-posjeerde Eiers

Spuit elke koppie met kleefwerende sproei.

Voer die koppies uit met groot stukke kleefplastiek – genoeg om ‘n knoop te maak. Verf die binnekant van elke stuk kleefplastiek met enige olie.

Sprinkel masalapoeier liggies op die kleefplastiek – die bodem en kante.

Strooi ‘n paar rissievlokkies en sprietui-stukkies op die bodem van elke koppie.

Breek ‘n eier versigtig in elke koppie.

Sprinkel die bokante van elke eier liggies met masala, brandrissievlokkies en sprietui-stukkies en geur met sout en peper.

Bring die punte van elke koppie se kleefplastiek bymekaar en knoop deeglik toe; los ‘n klein spasie tussen die eier en die knoop.

Bring die water waarin die aspersies gekook het tot ‘n sagte rollende kookpunt en posjeer die eiers in die water vir 3 – 6 minute (afhangende van hulle grootte) totdat hulle die punt bereik het wat jy van hou.

Haal die eiers dadelik uit die water en plaas dit in ‘n vergietes, nog steeds in die plastiek.

Opdiening

Dien dadelik op as die eiers gereed is: dompel die koue aspersies vir een minuut in die water waarin die eiers geposjeer het om weer op te warm.

Smeer ‘n stewige leksel mayonnaise op elkeen se opdienbordjie.

Dreineer die aspersies en rangskik so 3 – 4 aspersies op elke bordjie.

Sny elke eier se plastiek versigtig oop en dop die eier om op die aspersies.

Skep ‘n mildelike porsie mayonnaise bo-op elke eier en garneer soos jy lus het met watookal eetbaar en flambojant in jou huis is.

Lewer ongeveer 300 ml mayonnaise, 4 porsies as voorgereg

Bietjie moeite, maar Maklik!

Comments are closed.