Rooivleis

Boerington met Sampioen-kruiesous

Comments are Disabled

Boerington

Bestanddele

Boerie-omhulsel

  • 500 g goeie boerewors, derms verwyder
  • bietjie olyfolie
  • 125 ml fyngekapte ui
  • 250 g fyngerasperde bruin sampioene
  • 4 opgehoopte eetlepels sampioensoppoeier
  • 90 ml biefaftreksel
  • fyngekapte knoffel na smaak
  • 65 ml botter
  • 65 ml fyngekapte pietersielie
  • 10 – 12 repe gerookte bief (as jy nie by jou supermark kan kry nie, gebruik ‘streaky bacon’)

Bief-filet

  • sout en growwe peper na smaak
  • 1 heel stuk bief-fillet – ongeveer 800 g – vliesies en senings verwyder
  • sagte botter
  • bietjie olyfolie
  • 8 – 10 groot repe gerookte bief of springbok (“bacon” sal ook doen)

Heel Sampioene

  • 8 ekstra-groot, heel bruin sampioene
  • goeie biefekstrakpoeier (Ina Paarman)
  • olyfolie
  • botter

Sous

  • 30 ml olyfolie
  • 250 g gerasperde bruin sampioene (gebruik ook die stingels aan die groot sampioene)
  • 750 ml goeie rooiwyn
  • 30 ml tamatiepasta
  • 15 ml fyngekapte tiemie
  • 15 ml fyngekapte roosmaryn
  • 5 – 10 ml grofgemaalde swartpeper
  • 1 x pakkie biefsoppoeier (of oxtail-soppoeier)
  • 250 ml water
  • 30 ml fyngekapte knoffel-sprietuie (“garlic chives”)
  • 45 ml fyngekapte pietersielie
  • 8 – 16 roketblare

Metode

Omhulsel

Sit die wors in ‘n verwerker en kap die vleis tot heelwat fyner.

Verhit ‘n bietjie olyfolie in ‘n pan en braai die uie liggies.

Sit die boereworsmaalvleis by en roerbraai tot die vleis ligbruin en krummelrig is.

Voeg die sampioene by en roerbraai totdat hulle souserig raak.

Roer die sampioensoppoeier met die biefaftreksel en voeg by die vleismengsel.

Kook totdat die mengsel lekker dik is terwyl jy gereeld roer.

Verwyder van hitte en geur na smaak met knoffel en pietersielie.

Voer ‘n bakplaat met bakpapier uit en rangskik die repe gerookte bief bo-op. Sorg dat hulle effe oormekaar lê.

Smeer nou die vleismengsel versigtig oor die gerookte bief.

Plaas in die yskas tot koel.

Bief-filet

Terwyl die omhulsel afkoel, verbruin die filet.

Geur dit mildelik met sout en peper en smeer reg rondom met sagte botter.

Verhit ‘n bietjie olyfolie in ‘n pan (dit verhoed dat die botter brand) en verbruin die filet reg rondom.

Haal die filet uit die pan en sit eenkant, liggies toegemaak met foelie, om te rus.

Plaas die filet nou aan die lang kant van die vleismengsel en met die hulp van die bakpapier, rol die omhulsel met die gerookte biefrepe en al, reg rondom die filet.

Draai versigtig met foelie toe en bak teen 190 ºC vir 18 – 25 minute of totdat dit gaar genoeg na jou smaak is.

Hier is ‘n gids as jy ‘n vleistermostaat het:
 Medium-rare: 55 – 56 ºC
 Medium: 60 – 62 ºC
 Medium-well: 65 – 68 ºC
As die vleis na jou smaak gaar is, maak die foelie oop, laat die vleis rus vir 10 minute.

Sny versigtig in skywe en bedien met die heel sampioene en sous.

Heel Sampioene

Besprinkel die heel sampioene met biefekstrakpoeier en bak in ‘n mengsel van olie en botter in ‘n warm pan tot gaar.

Haal uit en hou eenkant warm.

Sous

Roerbraai die gerasperde sampioene in die olie in ‘n warm pan totdat dit souserig is.

Gooi die wyn, tamatiepasta, tiemie, roosmaryn en peper by en roer goed.

Laat vining kook sonder ‘n deksel totdat die mengsel so een derde weggekook het.

Meng die biefsoppoeier met die water tot glad en roer by die sous. Hou aan roer totdat sous verdik
het.

Verwyder van hitte en roer die sprietuie en pietersielie in.

Opdiening

Bedien skywe vleis met heel sampioene bo-op, bedruip met ‘n ruim porsie sous.

Lewer 4 stewige porsies.

Baie werk, maar MAKLIK!

Sampioensous

Comments are closed.