Watter groot voorreg was dit nie om saam met my skoondogter Louise te kon kook nie. Vir my is sy meer soos ‘n dogter as ‘n skoondogter, maar ek kon agterkom dat my seun PG vir haar gas gee oor haar macaroni en kaas, en oor haar broccolihoender. Ons wou sy mond stil kry! Met die macaroni en kaas het dit heel skaflik gegaan. Al verskil wat sy het van my resep is dat sy nie die macaroni bind met eier en melk nie . O, ja, en ook sit sy nie worsies binne in die macaroni nie. Probleem gou opgelos.
Die Broccolihoender was ‘n voël van n ander veer. Ek kom toe agter sy het nooit die sous gekook voor sy dit oor die hoender en brocccoli gegooi het nie. Ek dink dit was n aha-oomblik toe sy besef dis waar haar probleem lê. Nou is daardie probleempie met die hoender opgelos en ek hoop PG se mond is nou toe!