Bestanddele
- 1.2 kg dikgesnyde lamskenkels
- 250 ml goedgegeurde meel
- olyfolie na smaak
- 2 groot, fyngekapte uie
- 2 groot wortels, in medium ringe gesny
- 4 groot selerystingels, in medium skywe gesny
- 2 rooi soetrissies, ribbes verwyder en in blokkies gesny
- 4 – 6 groot fyngekapte of gerasperde knoffelhuisies (of na smaak)
- 15 ml gerookte paprika
- 2 lourierblare (verkieslik vars)
- 250 ml voorbereide lam- of biefaftreksel
- 2 x 410 g blikkies gekapte tamaties
- sout, varsgemaalde swartpeper en suiker na smaak
- gedroogte rooirissievlokkies (opsioneel en na smaak)
- ekstra knoffel en gerookte paprika, indien jy later meer wil byvoeg
- gekapte pietersielie na smaak
Metode
Doop die vleis liggies in die meel en braai dan ‘n paar stukkies op ‘n slag in ‘n oonvaste kastrol waarin jy bietjie olie verhit het.
Haal die gebraaide vleis uit en hou eenkant.
Verhit nog ‘n bietjie olie in die kastrol en voeg die groente by.
Soteer totdat die groente geurig is en voeg dan die knoffel, paprika en lourierblare by.
Roer deeglik en giet die aftreksel en blikkies tamaties by.
Sit die vleis in die kastrol en geur na smaak met sout, swartpeper en suiker. Voeg ook na smaak, gedroogte rooirissievlokkies by.
Bring tot kookpunt en plaas dan die kastrol op ‘n groot bakplaat.
Bak in die oond, voorverhit tot 190°C, vir 90 minute of totdat die vleis sag is. As daar nog te veel vloeistof in die pot is, haal die deksel af, verhoog die hitte van die oond effens en bak verder totdat die sous genoeg ingedamp het na jou smaak.
Haal die pot uit die oond, geur verder soos verlang met ekstra geurmiddels asook knoffel en gerookte paprika as jy voel dis nodig.
Roer die pietersielie deur en bedien met enige stysel van jou keuse: sagte polenta, romerige kapokaartappels, Italiaanse gnocchi, rys of pasta.
Genoeg vir 6
Bedien saam met ‘n groenslaai.
Maklik!