Bestandele
- 80 ml grofgemaalde peper
- 1 kg fillet of verouderde rump
- 30 ml olie
- 40 ml brandewyn
- 125 ml dik room
- 100 ml aftreksel
- 80 g sagte groenpeperkorrels
- Sout en peper na smaak
- een rol klaargekoopte skilferkorsdeeg
- 1 eier, geklits
Metode
Plaas die grofgemaalde peper op ‘n houtbord, en rol die biefstuk in die peper om ‘n kors te maak. Sny die biefstuk in repies. Plaas die olie in ‘n pan, verhit en braai die biefstukrepies liggies tot bruin. Haal uit die pan, bedek met foelie en laat dit rus.
Gooi die brandewyn in dieselfde pan en laat dit so ‘n bietjie kook totdat die stukkies agtergeblewe vleis los is. Voeg die room, aftreksel en groenpeperkorrels by die brandewyn en laat dit afkook tot dit verdik. Geur na smaak.
Plaas die biefstuk repies terug in die sous en laat dit vir so ‘n minuut deurkook. Plaas opsy om af te koel.
Rol die skilferkorsdeeg oop op ‘n gladde oppervlak, plaas ‘n bord onderstebo op die deeg, en sny ‘n sirkel deeg uit. Skep die vleismengsel op die een helfte van die sirkel, vou die ander helfte bo-oor die vleismengsel, sodat jy ‘n halwe sirkel het , en druk die kante toe met ‘n vurk. Verf die eier bo-oor die deeg en bak teen 180ºC tot die deeg mooi bruin is.
Maklik!